013 7533187 / 060 497 2512

Christo Smith Law Blog

Media ontbloot na VSA uitslag

CS Books

Joernalistieke etiek is wêreldwyd op ‘n laagtepunt. In besonder in Suid-Afrika. Die beriggewing in Rapport en ander koerante in die aanloop tot die VSA presidentsverkiesing en Brexit verwys. Die meningspeilings en die opinies asook die algemene beriggewing is deur die uitslae verneder. En dis die ysberg se punt : onder draai die duiwel rond.

So lyk Rapport se “waarheid” : die koerant berig op 16 Oktober 2016 dat ”Trump se steun styg soos ‘n loodballon”. In Weekliks van dieselfde uitgawe is die opskrif “Donald Ramp”. In hierdie artikel verskyn neerhalende en ongesubstansieerde stellings, soos onder andere, “Die meeste regdenkende Amerikaners sal waarskynlik verlig wees as die verswakking van die Republiekeinse Party die prys is wat hulle moet betaal om Trump uit die Withuis te hou”; en “die mees onlangse peilings toon dat Trump met soveel as 11 persentasiepunte teen Clinton kan verloor”. Die artikel is geskryf deur ‘n geleerde akademikus, Dr Leon Schreiber. Wat is ‘n regdenkende Amerikaner? Wie sȇ dit is hoe Republiekeine voel? Die pers se groot verleentheid is dat miljoene demokrate in die “blou” state vir Trump gestem het : demokrate steun vir Trump, waar is die ontevrede Republiekeine? Wie is dr Schreiber en hoekom skryf hy vir Rapport?

Watter meningspeilings word na verwys en tot welke mate het Rapport self die feite nagevors? Skynbaar glad nie.

Dis ‘n ope geheim dat daar wêreldwyd twee groot kampe is : die Liberaliste en die Konserwatiste. Die liberaliste is meestal minder religieus toegewyd en steun meestal ‘n minder streng en letterlike interpretasie van die Bybel. Die Konserwatiste is daarenteen meer religieus toegwyd en glo meestal in ‘n enger letterlike Skrif interpretasie. Toegegee, dis baie simplisties gestel, maar in breë trekke kan die verdelingslyne van bykans elke groot vraagstuk in een van hierdie kampe geplaas word. Dit is ook waar dat ongelowiges, wat andersins liberaal of konserwatief is, in beide kampe gevind word

Die manifestasie van die tendens in die media is maar een klein sweertjie in die siekte wat ons lewens teister sedert wie weet wanneer. Die wat pro-God is of enigsens ‘n sweempie van konserwatisme toon, word ten alle koste gebrandmerk as iets dodeliks. Wat is hier gaande? Is dit blote kwaadwillige meningsvorming of is dit die ou stryd tussen Lig en Duisternis?

‘n Aanduiding is die feit dat politieke behoudendheid altyd die teiken is van die media, (wat, oorwegend in liberale beheer is) want seksuele en ander wandade kom in albei groeperings voor.  Byvoorbeeld, Trump word in die betrokke koerant afgemaak as ‘n “vulgȇre narsis”. Die Clintons word egter deur erger seksuele wandade en korrupsie geteister. Dit tel vir niks. Dis die aard van die politieke standpunt, behoudend of andersins, wat die deurslag gee : Slegs die party wat behoudende politiek vergestalt, word aangeval.

Die bewys van die euwel van subjektiewe liberaal beheerde joernalistiek is klokhelder: enige half ingeligte individu kon  deur ‘n eenvoudige steekproef op sosiale media en ‘n bietjie navorsing van die bronne van die VSA politiek, bepaal het dat die peilings verdag is. Bywoning van vergaderings is altyd ‘n goeie barometer, veral as die tendens deurlopend en die vergaderings talryk is. By meeste van Trump se byeenkomste kon duisende nie verby die deure kom nie. Op sosiale media was Trump se respons persentasie, sy “likes” en deelname, met miljoene voor die van Clinton. Enige gewone mens kon dit navors. Een van my goeie politieke vriende en die uwe het die verkiesing bykans daagliks gevolg in ‘n tweegesprek en met behulp van die bronne wat algemeen beskikbaar is, tot die gevolgtrekking gekom dat Trump baie waarskynlik gaan wen. Waarom kon die “geleerde” joernaliste dit nie doen nie? Is dit omdat hulle die pen en vals “meningspeilings” gebruik om hul eie agendas te dryf?

Elke berig, elke artikel, elke opiniestuk word deur een enkele mens geskryf. Daardie een mens verkondig ‘n mening wat klaarblyklik deur ‘n redaksie gedryf word. Koerante eien hulle die status toe van meningsvormers. Hulle wil dink vir ons arme onkundiges en oningeligtes. Ons arme stomme mense. Die valsheid en die leuens word aan ons opgedis asof dit die populȇre mening is en asof dit “reg” is! Dit word alles gedoen in ‘n malle gejaag om die politieke rivier in hulle eie vooropgestelde kanale van Duisternis te dwing.

Op sekulêre vlak bevuil die media sy eie stoep – Jan Publiek sien al hoe meer hoe sy onderrok uithang. En ons betaal boonop R22 vir Rapport se vals inligting!

Die dag wat die streep getrek gaan word kom al hoe nader, geestelik en sekulêr. Dis nie lank nie voordat almal sȇ : “Bring daai muilband wetgewing. Dit lyk skielik glad nie na so ‘n slegte idee nie.”

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Media ontbloot na VSA uitslag